Vindoux Guest Farm & Spa is in die skilderagtige Tulbaghvallei, net 120 kilometer buite Kaapstad, op ’n pragtige, rustige plaas geleë. Hiér, aan die voet van die Saronsberg, word jy deur wingerd en vrugtebome omring en gun Vindoux jou die geleentheid om dié stukkie hemel op aarde vir ’n wyle jou huis te noem. Behalwe vir die luukse verblyfopsies wat elke sak pas, vertel ons jou in hierdie blog ook watter aktiwiteite dié plattelandse juweel op die perseel bied sodat jy nie té ver hoef te reis om ’n lekker tyd heel naweek lank te hê nie.

Verblyfopsies wat elke sak pas

Die plaas spog met vier romantiese boomhuise, ’n selfsorgboomhuis en rustieke selfsorgkothuise wat ’n bietjie eenkant geleë is vir nóg meer privaatheid. Vir diegene wat na ’n unieke ervaring smag, is die eersgenoemde luukse boomhuise ideaal. Elke huisie skuil tussen die bome en spog met ’n uitsig oor die wildkamp, plaaslande, vrugtebome en op die berge, en dis ideaal vir twee gaste wat op soek is na privaatheid. Elke boomhuis het ’n gemaklike koningingrootte-bed, sagte japonne, ’n en suite-badkamer met ’n groot spa-bad, kombuisgeriewe soos ’n yskassie en koffie- en teemaakgeriewe, en ’n privaat braai-area met hout en ’n rooster. Paartjies wat ’n spesiale geleentheid vier kan ook die kamervoorbereidingsdiens bespreek wat roosblare op die bed, ’n bottel Krone MCC en sjokolade insluit. O ja, en ontbyt is ingesluit en word by jou boomhuis afgelewer sodat jy dit in die bed of buite op die dek met ’n uitsig kan geniet. 

Die selfsorgboomhuis is ’n verhewe boomhuis wat tussen die boomtoppe skuil en dit is die perfekte keuse vir groter gesinne of groepe vriende wat op soek is na hulle eie, privaat ruimte. Die boomhuis bied slaapplek aan agt gaste en beskik oor drie slaapkamers, drie badkamers en ’n groot oopplan-leefarea met ’n kombuis wat ten volle toegerus is. Die leefarea het ook stapeldeure wat heeltemal kan oopskuif en die uitsig op die berge pragtig ten toon stel. Die hoogtepunt van hierdie huis is egter die privaat tuin met ’n omheinde swembad, vuurput, glyplank vir kinders, ingeboude braaigeriewe en ’n omheinde tuin vir troeteldiere — ja, Wagter is ook welkom!

Die selfsorgdorpie beskik oor vyf kothuise wat elkeen na ’n wyndruifvariëteit vernoem is. Dit is ’n entjie vanaf die hoofplaashuis langs die organiese boerderyprojek geleë, maar is stapafstand vanaf die swembad, plaaskombuis, wildkamp en spa. Daar is twee eenslaapkamerkothuise en drie tweeslaapkamerkothuise. Die kothuise het almal en suite-badkamers met storte en hoekbaddens en sluit volledig toegeruste kombuise, sitareas met kaggels en onderdakstoepe met braaigeriewe en tuine in. Drie van hulle is ook vir honde geskik. Al die kothuise is naby ’n groot braai-area vir groepe en ’n klein klimraam vir die kinders geleë. Alhoewel die kothuise redelik naby aan mekaar is, skep dit ’n lieflike, veilige, plaasdorpie-atmosfeer.

’n Spa-behandeling vir sielerus

Daar’s min dinge so ontspannend soos ’n uitstappie na die spa! By Vindoux Day Spa is jou welstand topprioriteit en ’n span hoogs gekwalifiseerde terapeute staan gereed om jou met ’n ongelooflike behandeling in ’n rustige atmosfeer te bederf. Behalwe vir die eksklusiewe reeks Sunergos Botanical Skincare-produkte, gebruik die spa ook Fynbos Therapy-produkte wat by Vindoux met die hand met die beste bestanddele en fynbos-essensiële-olies gemaak word.

Hiér kan jy ook vir jou en jou geliefde ’n gesamentlike spa-ervaring in die behandelingskamer vir paartjies bespreek en ’n warmbadsessie onder die sterre of ’n Himalaja-soutterapiesessie byvoeg. Swanger vrouens sal ook bly wees om te hoor dat Vindoux Day Spa ’n rits produkte wat veilig is vir swangerskap in voorraad het en presies weet watter behandelings die meeste gedurende hierdie tyd waardeer word. Daar is ook ’n masseerbed wat spesiaal ontwerp is om jou bondeltjie liefde te akkommodeer!

Peuselgoed en proeskinkborde

Vindoux wil hê jou verblyf moet so ontspanne en sorgeloos moontlik wees, so hulle het ’n spyskaart vol heerlike lekkernye wat met aankoms reeds in jou kamer beskikbaar kan wees of vir ’n spesifieke tyd bestel kan word. So, as julle nie lus is om dorp se kant toe ry vir iets te ete nie, kan julle sommer net op die plaas bly en uit fynproewerspiekniekmandjies, braaipakkies en slaaie kies wat met die beste plaaslike produkte, meestal uit die organiese tuin op die perseel, gemaak is. Dié tuisgemaakte maaltye is sewe dae per week beskikbaar, maar moet vooraf bestel word, so moenie vergeet nie!

Natuurlik sal ’n wegbreek in die Kaapse Wynlande nie dieselfde wees sonder om van die heerlike plaaslike wyn te proe nie, so ’n daar is ’n paar wyne en ander drankies teen ’n billike prys by ontvangs te koop. Ons beveel egter aan julle maak vooraf ’n afspraak om by The Gin Yard aan die selfsorgkothuise se kant van die plaas in te loer. Dít is begin met die doel om die aromas van Suid-Afrika, met behulp van plaaslike organiese bestanddele, vas te vang. Hiér proe jy ’n skinkbord van ses gins teen ’n bekostigbare prys én wegneem-proeskinkborde is ook by ontvangs beskikbaar!

Verken wynplase met twee wiele

Vir avontuurlustige siele gee Vindoux se unieke Wine by Bike-aktiwiteit jou die kans om die Tulbagh-omgewing en naburige wynplase met ’n fiets te besoek. Huur ’n fiets vir ’n halwe of ’n volle dag teen ’n bekostigbare prys en ontvang ’n waterbottel, slot en ’n padkaart van die omgewing. Ons stel voor julle sit Twee Jonge Gezellen, die tuiste van Krone, Saronsberg en Montpellier op julle roete, want dié wynplase is almal binne ’n vyf kilometer-radius vanaf Vindoux en gee jou die kans om iets van alles te ervaar en proe — heerlike wyn, MCC, kaasborde én pizzas! 

So, of jy nou ’n salige, romantiese wegbreek, ’n gesinsavontuur of ’n groepsbestemming soek, Vindoux Guest Farm & Spa beloof onvergeetlike plaasverblyf in Tulbagh se wynvallei. Met luukse en selfsorgverblyf, spa-behandelings op die perseel, eet- en drink-ervarings en opwindende aktiwiteite, nooi Vindoux jou om die stadsgedruis vir ’n welverdiende plattelandse wegbreek te verruil. Waarvoor wag jy? Bespreek vandag nog!

Hooffoto: Vindoux Guest Farm & Spa

Lees ook:

Riebeek-Kasteel roep: ’n Kykie op kos, kelders, koffie en kultuur

The Red Caboose: Kom slaap in ’n treinwa

Stellenbosch: kos, kuns en kuier